Plantsiektes

Plantsiektes is een van die grootste probleme in veral die landbou en kan deur 'n groot verskeidenheid lewende organismes of fisiese of chemiese faktore veroorsaak word. Die meeste ernstige plantsiektes word egter deur fungi veroorsaak, terwyl virusse ook 'n baie belangrike rol speel.

Die simptome kan wissel van effense verkleuring, verwelking en plaaslike nekrose tot vrektes of die totale inhibering van groei. Die belangrikste metodes vir die bestryding van plantsiektes is bespuiting met chemiese middels, met die gepaardgaande besoedelingsprobleme, en die teel van siektebestande variëteite. Plantsiektes kan deur 'n groot verskeidenheid biogeniese of abiogeniese faktore veroorsaak word. Biogeniese faktore is te wyte aan lewende organismes, terwyl abiogeniese faktore fisies of chemies van aard kan wees.

Verreweg die meeste plantsiektes word deur biogeniese faktore veroorsaak. Die belangrikste patogeniese (siekteveroorsakende). organismes is fungi, terwyl virusse in 'n land soos Suid-Afrika ook baie belangrik is. 'n Paar siektes soos bakteriese vlek by tamaties word deur bakterieë veroorsaak, maar oor die algemeen is daar min patogeniese bakterieë by plantsiektes betrokke. 'n Paar siektes word ook deur slymswamme of mikoplasmas veroorsaak.

Diere soos myte en ʼn paar insekte veroorsaak ook plantsiektes, in die meeste gevalle minder ernstig, en aalwurms of nematode kan veral by die aartappelagtige gewasse (aartappels, tamaties, tabak) ernstige skade aanrig. Dikwels word die siektes egter veroorsaak deur virusse wat deur middel van die nematode aan plante oorgedra word. Net so is insekte soos plantluise self selde vir plantsiektes verantwoordelik, maar hulle kan virusse oordra wat ernstige siektes kan veroorsaak.

Plantparasiete kan ook genoem word, omdat hulle baiekeer veroorsaak dat plante swakker of abnormaal groei. Hierdie plantparasiete kan verdeel word in hemiparasiete, wat self kan fotosintetiseer en dus slegs vir hul minerale voedingstowwe en water van hul gasheerplante afhanklik is, en holoparasiete, wat vir al hul voeding stowwe van die gasheerplante afhanklik is. Voëlent (genera Loranthus en Viscum) is ʼn voorbeeld van hemiparasiete wat soms op sitrusbome aangetref word, maar selde enige wesenlike skade aanrig.

Die holoparasiete soos dodder (genus Cuscuta) en die rooiblom (Striga lutea) veroorsaak meer skade en kan soms ernstige oesverliese meebring. Die algemeenste abiogeniese faktore vir plantsiektes is tekorte aan sekere voedingstowwe wat maklik reggestel kan word deur die toediening van die voedingstowwe. Besoedeling, die verkeerde gebruik van plantgroeistowwe en fisiese faktore soos droogte en oormatige straling kan ook verminderde of abnormale plantgroei tot gevolg hê.

Verswakking van plante deur abiogeniese faktore veroorsaak baie keer dat hulle dan vatbaarder is vir patogeniese organismes. Plantsiektes kan sistematies of lokaal van aard wees. In die eerste geval word die hele plant geaffekteer, terwyl in die tweede geval net dele daarvan geaffekteer word.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search